Onmin onder die broers
Die twee leraars van die gemeente kon maar net nie oor die weg kom nie. Ná jare van wrywing word die een na 'n ander gemeente beroep. Hy besluit om die beroep te aanvaar en kies toe 'n gedeelte van Gen. 22 vers 5, die gedeelte waar Abraham berg-op is onder die indruk day hy sy seun moes gaan offer, as teks vir sy afskeidspreek: Bly julle hier met die esel.
Werk in sy donkieklere
Hoe waar dit is, weet ek nie, maar die volgende het glo in die jare dertig van die vorige eeu iewers tussen twee klein dorpies gebeur waar 'n motoris afgekom het op 'n groepie padwerkers. Een van hulle het sy oog gevang. Die man het daar gestaan, graaf in die hand, maar sonder 'n enkele draad klere aan en die arme siel se gesig en liggaamstaal het gespreek van moedeloosheid. Hy was duidelik waar hy nie wou wees nie en in plein Afrikaans, behoorlik gatvol. Die reisiger stop toe sy motor, klim uit en vra aan die werker hoekom hy dan kaal is.
Nee-wat man, kom die antwoord, as ek dan soos 'n donkie moet werk, kan ek seker maar soos 'n donkie lyk ook.
Nee-wat man, kom die antwoord, as ek dan soos 'n donkie moet werk, kan ek seker maar soos 'n donkie lyk ook.
Dominee polonie
Daar was ook ds. Worst van Potchefstroom. Die verhaaltjie lui dat hy op 'n dag by mense aankom wie se motor 'n pap wiel gehad het. Toe hy vra wat fout is, kom die antwoord met vele kragwoorde terug. Hy sê toe: Broer, ek is dominee Worst van Potchefstroom, en ek dink jy moet jou taal matig. Geaffronteerd kom die antwoord terug: Man, ek geen nie om nie, al was jy dominee Polonie van Benoni.
Ou Attieke
Wat het geword van die ou karakters wat jy jare gelede gekry het? Meeste dorpe het een gehad. Die ou siele wat so bedel-bedel deur die lewe is - doodgewoon maar so ongewoon dat hulle legendes sou word.
Een so ‘n ou karakter het op ‘n klein Vrystaatse dorpie gewoon – en ons praat nou weer van die eerste deel van die vorige eeu. Die ou was ‘n bedelaar wat gou die naam van Atiekke gekry het. Hy het ‘n heel ongewone bedeltegniek gehad wat dikwels vir 'n gawe aandete gesorg het. Hy sou aan ‘n deur sou klop en begin praat: Dag, mevrou. Atiekke nou 'n aartappel dan atiekke nou 'n pot sop gemaak. Aartappel in die hand is hy dan weg na die volgende huis: Dag, mevrou. Atiekke ek nou ‘n stukkie vleis gehad ...